Kom ervaar die Moot Akademie-verskil
Moot Akademie is in 2012 in Pretoria gestig uit ’n diep behoefte om vir kinders met aandagafleibaarheid en leeruitdagings ’n plek te skep waar hulle nie net kan byhou nie, maar kan floreer. In die groter hoofstroomskole het baie van hierdie leerlinge gesukkel om aandag te hou of het hulle gevoel hulle raak verlore in groot klasse. ’n Groep toegewyde opvoeders en ouers het besef dat daar ’n alternatief nodig is — ’n plek met kleiner klasse, persoonlike aandag en ’n ondersteunende leeromgewing wat elke kind se unieke vermoëns raaksien.
Vanaf die begin het Moot Akademie sy wortels gevestig in sterk Christelike waardes, waar foute as deel van leer gesien word en kinders aangemoedig word om weer op te staan, te leer en te glo in hulself. Die skool het oor die jare gegroei tot ’n gerespekteerde hoofstroomskool vir Graad R tot Graad 7, met ’n familie-georiënteerde kultuur en ’n span onderwysers wat passievol is oor kinders se groei.
Vandag staan Moot Akademie trots as deel van die Pretoria-gemeenskap.
’n Skool waar elke kind die geleentheid kry om hul Godgegewe potensiaal te ontdek.
Ons Missie
By Moot Akademie is ons roeping om elke kind holisties te ontwikkel — akademies, emosioneel, sosiaal en geestelik — binne ’n Christelike raamwerk. Ons streef daarna om ’n veilige, stimulerende omgewing te skep waar kinders met aandagafleibaarheid of leeruitdagings die nodige begrip, ondersteuning en individuele aandag ontvang om tot hul volle potensiaal te groei.
Ons Visie
By Moot Akademie leef ons volgens die oortuiging dat elke kind uniek geskape is en ’n doel het. Ons waardes spruit uit ons Christelike geloof — eerlikheid, respek, geduld, verantwoordelikheid en liefde. In ons klaskamers is daar ruimte vir foute, want foute is geleenthede om te groei. Ons leer kinders dat hulle ’n “uitveer mag gebruik”, want elke dag is ’n kans om weer te probeer.
Ons kweek ’n kultuur van aanvaarding en ondersteuning, waar leerders mekaar respekteer en onderwysers ’n veilige ruimte skep vir leer en ontwikkeling. Saam met ouers bou ons ’n hegte gemeenskap wat glo in die krag van samewerking en geloof. By Moot Akademie gaan dit nie net oor punte nie — dit gaan oor karakter, groei en geloof in jouself.
Ontmoet ons span
ns span bestaan uit toegewyde opvoeders en spesialiste wat passievol is oor die holistiese ontwikkeling van elke kind. By ons is jou kind nie net ‘n nommer nie, maar ‘n individu met unieke talente.
Amelia Esterhuizen
Hoof | Eienaar
As hoof en eienaar van Moot Akademie in Pretoria, is my grootste doel om ’n leeromgewing te skep waar elke kind kan groei, ontwikkel en hul volle potensiaal bereik. As jong meisie wou ek altyd met kindertjies werk wat Downsindroom het, daarom het ek besluit om onderwys te studeer. Onderwys is vir my meer as net ’n beroep – dit is ’n roeping en ’n passie. Die droom om my eie skool te begin het ontstaan uit my liefde vir kinders en my begeerte om ’n verskil in jong lewens te maak. Ek het besef hoe belangrik dit is dat kinders nie net akademies ondersteun word nie, maar ook emosioneel en sosiaal. Vanuit hierdie visie is Moot Akademie gestig – ’n plek waar kwaliteit onderwys, sterk waardes en ’n warm, ondersteunende atmosfeer hand aan hand gaan. Sedert die begin van die skool het my fokus altyd gebly om ’n veilige en inspirerende omgewing vir leerders, ouers en personeel te bou. As hoof vervul ek baie rolle – van leiding en administrasie tot mentorskap en ondersteuning – maar my grootste vreugde bly om elke dag deel te wees van kinders se ontwikkeling en sukses. My passies in die lewe sluit in om met kinders te werk, mense te inspireer en ’n positiewe verskil in my gemeenskap te maak. Ek glo sterk in samewerking tussen ouers en onderwysers, en dat ’n skool ’n plek moet wees waar elke kind gesien, gehoor en waardeer voel. Vir my is Moot Akademie meer as net ’n skool – dit is ’n droom wat ’n werklikheid geword het en ’n plek waar ek elke dag die voorreg het om ’n betekenisvolle verskil in jong lewens te maak.
Mandi de Beer
Graad R
Ek het sertifikate in basiese berading, onderwys vir begaafde leerders, en ‘n diploma in Graad R onderwys. Onderwys is vir my nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping. Van kleins af was dit my droom om ’n juffrou te wees, en vandag leef ek daardie droom uit as ’n Graad R-juffrou, Hoof van die Grondslagfase en Koördineerder van die Skoolondersteuningspan. Omdat ek self met leeruitdagings gesukkel het, verstaan ek hoe dit voel om oorgesien te word. Daarom lê my hart veral by maats wat maklik in groot klasse verlore raak. Ek glo elke kind is uniek en verdien die geleentheid om positief te groei — akademies, emosioneel en sosiaal. Ek gee nie maklik op op ’n maat nie, want ek wil hê elkeen moet hul plek in die lewe vind. As Hoof van die Grondslagfase en Koördineerder van die Skoolondersteuningspan werk ek doelgerig daaraan om ondersteuning te bied waar dit nodig is, struikelblokke vroeg te identifiseer en saam met ouers en kollegas oplossings te vind wat in die beste belang van elke kind is. My fokus is nie net op prestasie nie, maar op welstand, selfvertroue en ’n blywende liefde vir leer. My leuse is: “Ek kan. Ek wil en ek sal, met die hulp van Bo!” Ek streef daarna om ’n omgewing te skep waar elke maat weet: Ek is waardevol. Ek kan.
Monique Donaldson
Graad 1
Ek is die Graad 1-juffrou by Laerskool Moot Akademie. Ek het Grondslagfase-onderwys aan die University of Pretoria studeer en daar ontdek dat ek ’n groot passie het vir maats wat ekstra ondersteuning met hulle leer nodig het. Daarom het ek my Honneurs in Leerondersteuning voltooi, waar ek veral gefokus het op die rol wat perseptuele vaardighede in leer speel. Ek glo dat hierdie vaardighede die fondament vorm waarop alle leer gebou word. Wanneer dit nog nie voldoende ontwikkel is nie, kan dit ’n groot invloed hê op hoe maklik ’n kind nuwe werk aanleer. Daarom is dit vir my belangrik om elke leerder as ’n individu te sien, hulle unieke behoeftes raak te sien en hulle te ondersteun sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik. In my klaskamer is dit vir my belangrik dat elke maat veilig en gemaklik voel, en dat hulle weet dit is reg om te leer, te probeer en soms foute te maak. My doel is om elke leerder met geduld en begrip te ondersteun sodat hulle met selfvertroue kan groei en hulle beste kan bereik.
Wilmari du Toit
Graad 2
Ek het B.ed Grondslagfase by Aros studeer. My eie skoolervaring het my diep gevorm. As kind het ek nie altyd van skool gehou nie, omdat ek gesukkel het om by te bly met my werk en my aandag maklik afgedwaal het. Ongelukkig het ek min begrip van onderwysers ervaar, en dit het my laat besluit om self ’n verskil te maak. Daarom het ek onderwys studeer, met die droom om leerders te ondersteun wat soms sukkel of nie altyd raakgesien word nie. Om met kinders te werk is my grootste passie. Daar is vir my min dinge so spesiaal soos om ’n leerder se groei, selfvertroue en ontwikkeling te sien. In my klas glo ek dat elke leerder uniek is en dat elkeen met die regte ondersteuning sy of haar volle potensiaal kan bereik. Dit is vir my ’n groot eer om deel van Moot Akademie te wees – ’n plek waar ons geloof, waardes en omgee vir mekaar elke dag kan uitleef.
Wilmari de Klerk
Graad 3
Ek het my B.ed graad ontvang in 2024 en is ek tans besig met my Honneurs in leerondersteuning. Ek het onderwys as my beroep gekies omdat ek ’n passie het om kinders te help groei, leer en hul volle potensiaal te bereik. Ek glo dat elke leerder uniek en na God se beeld geskape is en dat elkeen die geleentheid verdien om in ’n ondersteunende en positiewe leeromgewing te ontwikkel. My onderwysfilosofie is gebaseer op respek, geduld en omgee, waar ek daarna streef om leerders nie net akademies te ontwikkel nie, maar ook as mens te vorm. Ek wil ’n klas skep waar leerders veilig voel om vrae te vra, foute te maak en nuwe dinge te leer. Deur my onderrig wil ek ’n positiewe verskil in leerders se lewens maak.
Mari Faber
Graad 4 - voog
Ek is die Graad 4 voog en bied verskeie vakke aan, insluitend Geografie vir Graad 4–7, Engels vir Graad 4 en 5, asook Lewensvaardigheid, Kuns en Bybelonderrig vir Graad 4. Ek het ’n Diploma in Sportkunde van die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom en ’n PGCE in Onderwys van Two Oceans Graduate Institute. Tans is ek besig met verdere opvoedkundige studies deur University of Suid-Afrika (UNISA). Ek het ’n groot passie vir onderwys en het ’n onderwyseres geword om ’n positiewe verskil in kinders se lewens te maak. Ek fokus daarop om leerders se sterk punte verder te ontwikkel en om swakhede in sterkpunte te help verander. Ek is ook verantwoordelik vir sport by die skool. In my vrye tyd geniet ek dit om tyd saam met my familie en vriende deur te bring, asook om plaasvakansies te geniet. By die skool staan ek ook bekend as “die soetste juffrou".
Tertius Pretorius
Graad 5 - voog
Ek het B.ed Intermediêre fase studeer by Stadio. Ek bevind myself in die intermediêre fase waar ek Wiskunde, Natuurwetenskappe, Lewensvaardighede, Tegnologie, Robotika en ook Kuns aanbied. Ek geniet dit om met verskillende vakke te werk, want dit gee my die kans om kreatiwiteit, probleemoplossing en praktiese denke in die klas te kombineer. Ek is iemand wat daarvan hou om dinge uit te werk, idees te bou en nuwe maniere te vind om leer interessant te maak. Ek glo ook dat ’n bietjie humor en ’n ontspanne klas baie help om leer makliker en lekkerder te maak. Ek hou daarvan om met mense te werk, nuwe uitdagings aan te pak en altyd iets nuuts te leer. Vir my gaan dit nie net oor kennis nie, maar oor groei, aanpas en aanhou verbeter. My lewensfilosofie is eenvoudig: If you can't get out of it, get into it.
Christelle Foonk
Graad 6 - voog
Ek is Juffrou Christelle Foonk, en ek gee klas vir Graad 6- en 7-leerders. Die vakke wat ek aanbied sluit Engels, Afrikaans, Kuns en Kerkgeskiedenis in. Ek streef daarna om altyd regverdig en lojaal teenoor my leerders te wees. My onderrigstyl kombineer ’n bietjie eienaardige humor met streng standaarde, wat ’n gesonde balans tussen kreatiwiteit en dissipline skep. Ek het ’n besondere passie vir taal en glo dat dit die sleutel is tot selfuitdrukking, begrip en groei. Ek het aanvanklik my Baccalaureus Artium-graad in Gesondheidswetenskappe en Maatskaplike Dienste (Sielkundige Berading) deur UNISA verwerf. Daarna het ek my nagraadse onderwyskwalifikasie by Varsity College voltooi, wat ek met lof geslaag het. Onderwys is vir my ’n roeping van God, en ek het ’n onderwyser geword omdat ek opreg elke leerder wil help om sy of haar volle potensiaal te bereik en ware grootheid te verwesenlik.
Amelia van der Walt
Graad 7 - voog
Ek is ’n toegewyde onderwyser met ’n groot liefde vir die natuur en ’n besondere waardering vir die Wildtuin. Ek het my B.Ed-graad aan die University of Pretoria verwerf en is passievol oor die onderrig en bevordering van die Afrikaanse taal. Ek glo dat taal ’n brug bou tussen mense en dat dit leerders help om hulself met selfvertroue uit te druk. My gunsteling kleur, pienk, weerspieël my vrolike en positiewe persoonlikheid in die klaskamer. Ek motiveer my leerders daagliks met my geliefde slagspreuk: “Jou glimlag is my reënboog.”
Bonita Fourie
Akademiese hoof | Intermediêre fase HOD
Ek is ’n toegewyde opvoeder wat met passie en doelgerigtheid werk om elke leerder se unieke potensiaal raak te sien en te ontwikkel. My benadering tot onderrig is regverdig, gestruktureerd en gefokus op groei — nie net akademies nie, maar ook emosioneel en sosiaal. Ek bied Wiskunde aan vir Graad 5, 6 en 7-leerders, asook Lewensoriëntering (LO) en Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe (EBW). Dit gee my groot vreugde om leerderbetrokkenheid aan te wakker deur kreatiewe, relevante en praktiese leerervarings wat leer betekenisvol maak. Ek het ’n BSocSci-graad in Sielkunde asook ’n BSocSci Honneursgraad in Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Daarna het ek my Nagraadse Sertifikaat in Onderwys (PGCE) in Intermediêre en Senior Fase-onderrig deur UNISA verwerf, gevolg deur ’n Professionele Diploma in die Sielkunde van Onderwys (PDip), ook deur UNISA. Hierdie akademiese agtergrond stel my in staat om nie net op die akademiese ontwikkeling van leerders te fokus nie, maar ook om hul emosionele en sosiale welstand beter te verstaan en te ondersteun. My lewensfilosofie is eenvoudig: “Ek onderrig nie net vir vandag nie — ek vorm die wêreld van môre.” Daarom glo ek dat ons altyd die toekoms in gedagte moet hou en onsself moet afvra: Wat kan ons vandag doen om ’n leerder se pad vorentoe makliker, sterker en meer betekenisvol te maak?
Annelize Bakker
Assistent
My naam is Annelize Bakker ek is ‘n Aros student eerste jaar. Ek beskryf myself as ’n energieke persoon wat vol liefde en passie vir kinders is. Ek glo opreg dat kinders die toekoms is, en daarom is dit vir my belangrik om hulle te help ontwikkel tot selfversekerde, gelukkige en nuuskierige leerders. As assistent-onderwyser streef ek daarna om elke kind raak te sien, hulle aan te moedig en ’n positiewe invloed in die klaskamer te wees. Ek glo ook dat leer nie net ernstig hoef te wees nie—’n bietjie lag, ’n kreatiewe aktiwiteit of selfs ’n snaakse storie kan soms die beste manier wees om ’n kind se dag op te helder en leer lekker te maak. Ek is ’n gedrewe en positiewe persoon met ’n NKR-vlak 5 kwalifikasie, en ’n groot passie vir onderwys. Ek glo dat elke kind die potensiaal het om te groei wanneer hulle die regte ondersteuning, geduld en aanmoediging kry. My doel is om nie net kennis oor te dra nie, maar ook ’n verskil in leerders se lewens te maak deur ’n veilige, ondersteunende en soms ook lekker-lag klaskamer te skep. Ek is iemand wat altyd bereid is om te help, nuwe dinge te leer en my beste te gee—selfs al beteken dit ek moet soms ’n bietjie ekstra kreatief raak om ’n les interessant te maak of saam met die kinders oor my eie klein foutjies kan lag.
Verushca Clack
Administrasie
Ek is iemand wat opreg probeer leef en met integriteit teenoor ander optree. In my administratiewe werk is ek georganiseerd, betroubaar en detail-gefokus, en ek neem trots daarin om strukture en prosesse glad te laat verloop. Ek glo daaraan om mense met respek, empatie en eerlikheid te hanteer, al verskil ons soms. Ek leer graag, groei voortdurend, en probeer elke dag beter wees as gister – nie net in my werk nie, maar ook as mens. Verhoudings, betekenis en doel is vir my belangrik, en ek streef daarna om ’n positiewe bydrae te lewer waar ek ook al is.
Elah Skosana
Skoonmaker
- 012 883 7897
- admin@mootakademie.co.za
- Maandag – Vrydag 07:00 - 13:00
- 535 13de Laan, Gezina, Pretoria
